‘n Kort Weskus-reis

Om een of ander rede is die Weskus ‘n gedeelte van Suid-Afrika wat aan my relatief onbekend is, ten spyte van die feit dat ek net so ‘n entjie verder as wat jy met ‘n koedoedrol kan spoeg, van die Weskus af woon.  Ek het grootgeword met vakansies na Stilbaai, Onrusrivier, Struisbaai en so meer.  My ouers het ons nooit Weskus toe gevat nie.  Na ons troue, ook nie my man nie.  Ons het ‘n paar maal letterlik landswyd getoer en is een keer reguit op na Namakwaland, vanwaar ons Oos gedraai het en landop getoer het – al die Weskus strandplekke verby sonder om hulle ooit te sien.  Ons was darem een keer saam met Swaer Deon-hulle by Klub Mykonos.  Toe my broer ons dus nooi om hierdie Julievakansie ‘n paar dae ‘n huis op Velddrif met hulle te deel, het ons besluit om die bul by die horings te pak.

Die dae was te min om regtig die Weskus te verken.  Ons het ‘n baie vlugtige draai by Vredenburg gaan maak, waar ons by presies 3 winkels by Vredenburg Mall in is. Ons kon nie eers die Mall behoorlik deurstap nie.  Ons idee van vakansies is in elk geval nie om te koop en winkels deur te kuier nie, maar ons af te sonder en te ontspan en die omgewing te verken.  Ons het by Paternoster ‘n draai gemaak en was aangenaam verras met die pragtige argitektuur en boustyle en ook met hoe die plek uitgebrei het.  Ons het baie vlugtig deur Dwarskersbos gery.  Ons was die meeste van die tyd op Veldrif self en het ook Laaiplek se hawe besoek, sy hotelkos beproef en kon net baie vlugtig by die Vissermansmuseum inhardloop omdat ons te kort voor lsuitingstyd op die laaste dag daar gaan inloer het.

‘n Plekkie wat ons ‘n paar maal deurgestap het, is die historiese Bokkomlaan.  Die huis wat ons gehuur het, was feitlik teen die laan geleë en dit was dus lekker naby.

IMG_1243

In Bokkomlaan kan jy Bokkoms koop (hoe anders?), kyk hoe Marina Clunie se skilderye lyk (Volgens advertensies kan jy haar ook in aksie kyk terwyl sy skilder), en talle eet- en drinkplekkies besoek.  Daar is ‘n paar mak pelikane wat baie fotogenies is.

IMG_1258

IMG_1257

IMG_1248

Wat my van Velddrif en Laaiplek opgeval het, is hoe skoon die plekke is.  Ons ou dorpie kan baie by hulle gaan leer.  Ek het vandag weer met afgryse gekyk hoe lyk die parkie regoor ons huis en ‘n paar van ons strate.  Ek weet nie of die munispaliteit soveel meer effektief is en of die mense net baie skoner lewe nie.  Is daar dalk minder werklose mense, minder bergies, minder mense wat mors?

Ek besef dat ek nog net aan die puntjie van die ysberg geraak het wat die Weskus betref.  Daar is nog vele onverkende plekkies en om dit te verken soos wat ons gedoen het, deur vlugtig daardeur te ry, is baie onbevredigend.  Jy leer nie ‘n plek op daardie manier ken nie.

Ek het groot waardering vir die Weskus humor en reguit manier van praat – selfs op hulle kennisgewingsborde!

IMG_1252

IMG_1253

IMG_1259

IMG_1254

Al was die vakansietjie kort, was dit lekker en verrykend.

Introversie, ekstroversie en inperking

Ek is besig om vir die tweede keer ‘n boek te lees rakende introversie, met die Titel “Quiet” deur Susan Cain.  Wel, eintlik jok ek so ‘n bietjie, ek het die hele boek geruime tyd gelede gelees en toe lank laat lêen toe weer so elke nou en dan ‘n hoofstuk gelees. Tans is ek al vir ’n geruime tyd so halfpad met die tweede lees.  Met baie ander leeswerk tussen-in. Daarom kan ek nou nie ‘n netjiese opsomming gee van wat ek geleer het nie, maar die boek handel basies oor introversie en die verskil tussen introverte en ekstroverte.  Sy maak ‘n groot saak daarvoor uit dat introverte verkies om alleen en op hulle eie te werk, soos byvoorbeeld Steve Jobs se vennoot Steve Wozniak, wat heeltemal tevrede was om weke alleen in sy motorhuis te swoeg om die hul rekenaar te ontwerp en te ontwikkel en hoofsaaklik op die agtergrond te werk terwyl Steve Jobs in die kalklig besig was.  Die voor- en nadele en verskille tussen die twee persoonlikheidstipes word bespreek.

Die verskil tussen die twee is dat introverte hul energie uit hulleself haal, terwyl ekstroverte dit by ander mense kry.

Self is ek ‘n bitter groot introvert.  Let wel, mense verwar dit soms met stil-wees, wat nie werklik die geval is nie.  Ek het geen probleem om saam met my kollegas te werk nie, ek geniet die sosiale byeenkomste wat formeel gereël word, en hoewel ek meestal ‘n stille waarnemer in groepe is, kan ek ook gesels en luister.  Maar dit is dit.  Ons gesin is nie een vir rondkuier nie; dit put my skoon uit om te hoor hoe baie ander mense kuier. As ek in ‘n week twee aande iets anders gedoen het as die gewone, dink ek ek was vreeslik besig.  Hoewel ek graag gesels, moet dit interessante onderwerpe wees. Los praatjies oor goed wat my nie interesseer nie, verveel my gou.

Maar die bedoeling is nie dat hierdie onderwerp oor my moet gaan nie.  Ek het sommer net begin wonder hoe ekstroverte versus introverte hierdie tyd van inperking beleef?  Self het ek nogal uitgesien na die inperking en gedink dit sal lekker weer om van die huis af te werk. Dit beteken dat ek so klein bietjie later kan opstaan (my groot swakheid), my nie hoef te bekommer oor wat ek aantrek nie (ek kan al my stokou lekker-dra goed uit die kas opdiep) en sommer net hier produktief wees.  Dit is vir my ‘n uitdaging om te kyk hoe lank dit vir my “lekker” is.

In alle billikheid moet ek sê dat my werkgewer noodsaaklike dienste lewer en dat ek met ‘n spesiale brief gewapen mag werk toe gaan, hoewel ons aangemoedig word om soveel moontlik tuis te werk.  Vrydag, dag 1 het ek ernstige aanmeldingsprobleme op rekenaar na ons bedieners ervaar en later net vinnig ingegaan om vir myself ‘n klompie dokumente te e-pos sodat ek daarop kan werk.  Maandag en Dinsdag was ek baie soet tuis en het ek gedoen wat ek kon, maar vanoggend het ek vir die voormiddag werk toe gegaan waar daar minstens ‘n skandeerder en drukker is, sodat ek ‘n paar goed kon afhandel.  Ek weet nie of dit die gebreekte ondersese kabel is en of my IDV ander probleme het en of die probleem by my werkgewer se bedieners lê nie, maar ons word kort-kort uitgeskop.  Ek kon vandaar dus ‘n baie meer produktiewe oggend hê en weer ‘n klompie verslae trek, waarmee ek vir die volgende twee dae tuis kan werk.

Waaroor ek wonder is:  Is die mense wat sulke kreatiewe video’s maak net meer kreatief as ander, of ook meer ekstrovert?  Verveel hulle hul baie meer tuis as introverte?

Ek het na ‘n praatjie geluister oor die sielkundige effek van die inperking.  Is ek reg in my vermoede dat ekstroverte die inperking baie meer intens beleef as introverte?  Gaan hulle gouer gefrustreerd raak, makliker die reëls oortree?  Gouer rede vind hoekom hulle iets by ‘n winkel moet kry?

Ek sien ook uit om myself te toets, Ek dink ek moet ‘n verveeldheids en frustrasietermometer ontwikkel en elke dag myself daarop meet.  Na ‘n vakansie van twee weke voel ek dikwels ek het nou lank genoeg niks gedoen, dit is tyd vir werk…. Hoe sal drie weke tuis in my eie huis wees?

Wel, more is week een verby – of is dit nou vannag middernag?  Ons introverte in die Woef-huishouding doen maar wat ons altyd doen.  My man versorg die huis as ons amptelike butler, en doen ook die inkope, want as “bejaarde” kom hy dalk vinniger in die winkels in. ek sit heeldag agter my rekenaar en doen wat ek dink gedoen moet word. Saans draf ek al om die huis, die eerste aand 5 keer, tweede aand ses keer en so meer. Vanaand is dit nege keer. Aan die einde sal ek darem volgens my vinnige sommetjie 25 keer om die huis te kan draf. Daarna eet ons en kyk TV of lees. Daar was nog nie eens tyd vir verveeld wees of wonder wat om te doen nie…….

NS: Ek geniet die video’s en grappies van die kreatiewe tuisblyers vreeslik.

Samesweringsteorieë

Vuurklip se bydrae oor die verskillende teorieë en idees van mense rondom die Covid-virus en my eie ervaring van fopnuus en teorieë wat mense versprei, het my laat besluit om ‘n bietjie navorsing te doen oor wat die verskillende teorieë is wat die rondte doen.  ‘n Mens kan nie anders as om te besef hoe maklik mense teorieë begin aanhang en dan vas daarin glo, sonder om hulself te bevraagteken nie.

Die teorieë is ook meer as wat ek gedink het en waarvan ek vantevore gehoor het.

https://www.wired.com/story/coronavirus-covid-19-misinformation-campaigns/

Eerstens is dit duidelik dat intense navorsing tot dusver nog nie regtig ‘n sekere antwoord kon gee oor die oorsprong van die virus nie.  Omdat die virus die eerste keer in Wuhan bekend geword het en versprei is, is aanvanklik geglo dat dit kom van die mark vir eksotiese vleise en dat dit waarskynlik van vlermuise of die ietermagog af kom.  Daar word nog bespiegel of die virus eenmalig na die mens oorgedra is en daarna deur die persoon na ander mense oorgedra is, en of verskeie mense aanvanklik besmet was.  Daar word nog navorsing gedoen oor of die virus nie dalk al ‘n rukkie voor die eerste besemetting ontstaan het, na die mens oorgedra is en toe begin muteer het nie. Tot sover die opsomming van wetenskaplike navorsing, wie nog nie klinkklare antwoorde het nie.

Die eerste samesweringsteorie is dat die virus mensgemaak is.  Daar is ‘n laboratorium nie te ver van hierdie Wuahn vleismark af nie en mense het vinnig begin beweer dat hierdie virus daarvandaan “ontsnap” of gelek het. Wetenskaplikes verwerp hierdie teorie. Die veiligheidsmaatreëls by die betrokke laboratorium is baie streng.

Interessant is die politieke moddergooiery wat met hierdie mensgemaakte teorie saamhang.  Die VSA beskuldig China dat hy die virus gemaak het en verskeie tweets op hoë vlak illustreer hierdie beskuldiging.  China beskuldig weer vir Amerika. En die gewone mense tussen-in skep sommer hul eie teorieë hieroor. Regerings kies hulle natuurlike vyande en dig die virus aan hulle toe – Iran se Ayatolla dig dit aan Amerika toe en weier gevolglik Amerikaanse medikasie. Andere beskuldig weer vir Rusland van die verspreiding van vals nuus.

Wetenskaplikes is dit egter eens dat die virus nie mensgemaak is nie, omdat mensgemaakte virusse se boustene uit vorige bekende virusse moet ontspring en die Covid-virus verskeie unieke eienskappe het wat nie eie is aan vorige bekende virusse nie.  Ook word gesê as hierdie virus as ‘n biologiese wapen geskep moes wees, sou dit ‘n baie swak wapen wees, eerstens omdat die mortaliteitsyfer in werklikheid nie so hoog is nie en tweedens omdat dit nie moontlik is om te bepaal wie besmet gaan word nie – soos uitgewys deur die feit dat China en VSA ewe veel onder die besmetting ly. Inderdaad ‘n dom manier om ander lande se ekonomie mee te probeer manipuleer.

Baie van die teorieë en idees is ook eintlik gevaarlik, omdat dit nie bydra daartoe om dit hok te slaan nie en eerder die verspreiding daarvan aanhelp. Soos Afrikane se geloof dat hierdie virus nie hulle s’n is nie en hulle dit dus nie kan kry nie.  Ek wonder of hulle weet dat die eerste sterfgeval in Zimbabwe dié van ‘n swart joernalis was?  Dalk verklaar dit ook die houding van traak-my-nie-agtigheid in sommige woonbuurte.  Die storie hou egter nie daar op nie. Daar word ook valslik beweer dat Jemenitiese Jode immuun sal wees.

O, en dan is daar die vaksine-teenstanders, wie se teorie is dat hierdie virus geskep is deur die voorstanders van vaksinering, om mense te dwing om  ‘n teenmiddel te ontwikkel sodat vaksinering dan gedoen kan word. Bill Gates, met sy wêreldwye veldtog vir immunisering, word dan die vark in die verhaal gemaak.

Daar is mense wie vas glo dat die virus sy ontstaan het as gevolg van 5G.  Blykbaar is 5G in November 2019 in China uitgerol en het dit dus heel toevallig baie goed saamgeval met die die bekendwording van die virus in Desember 2019. Die bewering is dat sekere eienskappe van 5G mutasies sou kon veroorsaak. Dit is te tegnies vir my om oor te vertel, dus eerder die skakel:

https://www.usatoday.com/story/tech/columnist/2020/03/21/did-5-g-cause-coronavirus-covid-19-pandemic/2873731001/

Daar is natuurlik ook beskuldigings dat Jode die wêreld wil oorheers en die virus geskep het om dit te bewerkstellig.

As ek dieper delf, sal ek seker nog baie ander teorieë ook kon opspoor en ek is redelik seker ek het meer raakgelees wat ek net nie nou meer kan onthou nie.

Die vraag is eerder,  hoekom die samesweringsteorieë? Ek dink eerstens mense is geprogrammeer om die wêreld vir hulle so eenvoudig moontlik te maak.  Dit is dus maklik om die denkpatroon te kies wat vir jou die aanvaarbaarste is en daarby te hou.  Waarom mense dit dan die wêreld instuur, weet nugter.  Dalk gee dit ‘n gevoel van mag?  In die geval van politici en hulle tweets, is dit natuurlik deel van die magspel en poging om menslike denke te manipuleer om jou standpunt te aanvaar en ander te verwerp, omdat dit jou aanhang moontlik kan vergroot.

Ek het verlede jaar bietjie nagelees oor ‘n verskynsel wat genoem word neurologiese luiheid – die geneigheid van mense om in bepaalde denkpatrone te dink en volgens bepaalde vooroordele te lees. ‘n Mens lees dus eerder die gedagtes en idees en mense wat met joue saamstem en nie met die van mense wat anders as jy dink nie. Hierdie word sekerlik goed geillustreer deur myself, wat eerder oor al die samesweringsteorieë lees, eerder as om myself in een te verdiep en een te begin aanhang.  Ek het ‘n broertjie dood aan samesweringsteorieë self, maar die verskynsel interesseer my wel. 

Dit word ook goed geillustreer deur ‘n persoon of persone met wie ek bekend is wat my aangevat het toe ek (nog voor ek hierdie leeswerk gedoen het) gesê het die virus kom van diere en het muteer.  Ek stuur hom toe ‘n nuusbron-skakel wat my teorie bevestig en hy laat weet my koel en kalm daar is baie ander nuusbronne wat dit weerspreek. (Sonder ‘n skakel om sy stelling te staaf). Onnodig dalk ook om te sê, genoemde persoon glo ook redelik vas dat hierdie gebeure ‘n werking is in die rigting van wêreldoorheersing van sekere magte. Die ironie is dat hierdie persoon baie meer belese as ek is, baie beter kan redeneer en dus altyd sy argument sal wen, daarom redeneer ek eerder nie, want ek sal beslis tweede kom. Dit beteken egter nie dat ek bereid is om oortuig te word tot sy standpunt nie.  Die ander ironie is dat hy, juis omdat hy so wyd lees, (en hy glo dat hy teenoorstaande stampunte lees) blind geraak het vir sy eie vooroordele. Ons is maar almal slagoffers van neurologiese luiheid en word moeilik oortuig om anders te dink as wat ons dink. Selfs die sogenaamde eksakte wetenskappe het nie altyd al die antwoorde nie en navorsing word dikwels “gebuig” in die guns van die navorsingsborg se standpunt.

Neurologiese luiheid is egter ‘n onderwerp vir ‘n ander dag. Om terug te kom na die virus wat nou al die nuus oorheers, daar is natuurlik ook baie kure en geneesmiddels en boererate en vele meer wat die rondte doen, sommige wat miskien bietjie vir simptoomverligting kan help en ander wat fataal kan wees as dit toegepas is. Dit is ‘n terrein wat ek liewers glad nie wil betree nie.

Wat wel interessant is, is die debatvoering oor die dra van maskers. Die Wes-Kaap Dept Gesondheid en WHO versprei die boodskap dat maskers nie nodig is nie en nie help nie. Ander beweer weer dat die dra van maskers bydra tot die sukses van die nie-verspreiding van die virus  en dat hierdie boodskap deur gesondheidsorganisasies versprei word omdat daar ‘n tekort aan maskers is en maskers dus uitgehou moet word vir gesondheidspersoneel. Sommige mense sê maskers moet net deur siek persone gedra word om te verhoed dat hulle die virus versprei, ander sê dit stigmatiseer mense wat maskers dra en dat almal dit dan liefs moet dra.  Sommige sê maskers help om te verhoed dat jy te veel aan jou gesig vat, ander sê maskers kan later self die draer van die virus wees, veral as dit nie ontsmet word nie. Sommige sê tuisgemaakte maskers hou meer gevare as voordele in  omdat die virus op die materiaal kan gaan sit, ander meen dat dit steeds vehoed dat jy ander mense dalk onwetend aansteek.  Hierdie debat is nog nie klaar gevoer nie. Ek hou die debat met aandag dop!

Ek sluit dus af met dit wat ons nou al met veiligheid weet en kan sê: Was jou hande, moenie aan jou gesig wat nie en hou die afstand!  Mooi loop!

Corona, o Corona

27 Maart 2020. Dag een van die algehele inperking van Suid-Afrikaners in ‘n poging om die Corona-virus hok te slaan.

Hierdie virus het toegeslaan soos ‘n dief in die nag. Het blykbaar in Wuhan in China begin en daarvandaan sos ‘n veldbrand versprei. Dit is die prys wat ons betaal vir menslike beweeglikheid en globalisering.  En vir die vreemde gewoontes wat ons as mensdom oor tyd ontwikkel het.  Hierdie virus het blykbaar by diere ontstaan en is na die mens oorgedra.

Die virus het nie brieke nie. As hy op jou beland het en jy raak aan jou gesig, sal hy jou liggaam binnedring, op een van 5 punte: jou twee oë, jou twee neusgate of jou mond.  As jy dus vat aan iets wat besmet is en daaraan aan jou gesig vat, is jy ‘n potensiële slagoffer. (Vir my persoonlik is dit een van die moeilikste dinge om my hande uit my gesig te hou en ek was nog nooit tevore so bewus daarvan soos nou nie.)

Die virus is nie dodelik nie, maar dit is ook dodelik.  Aanvanklik is aanvaar dat die mense wat daaraan gaan sterf, ouer mense is wie reeds ander onderliggende gesondheidsprobleme het, maar al hoe meer jonger mense sterf ook daaraan.  Die eerste slagoffer inSuid-Afrika wat daaraan gesterf het, was ‘n vrou van 38 jaar.

Ons president en sy regering het vir een keer in hulle lewe tydig opgetree en leierskap openbaar.  Vroeg nadat die virus Suid-Afrikaners begin besmet het, is daar eers met ‘n afskaling van projekte begin. Vanaf 27 Maart moet ons ons algeheel afsonder en slegs na winkels toe gaan vir noodsaaklikhede.

Die rede waarom die regering dit gedoen het, is omdat hulle besef dat ons gesondheidsdienste nie massas skielike siektes sal kan hanteer nie. Suid-Afrika sit ook met ‘n redelike groot persentasie mense wat HIV positief is en /of TB onder lede het en vir hulle kan hierdie virus fataal wees. Die hoop is dat die verspreiding van die siekte vertraag word sodat almal nie gelyk siek word nie.

Daar is natuurlik ook baie kritiek op die regering se besluit.  Dit lyk vir my of dit deel van die menslike natuur is om te kla.  Ek is ‘n redelik onsosiale mens, maar skielik ontvang ek ook talle whatsapp boodskappe van verskeie groepe waaraan ek behoort. Dit is waarskynlik ook ‘n manier om die tyd te help omkry.  Dit is interessant dat van die kommentare wat ek gekry het en dit wat ek ook op facebook raakgelees het, soms totaal uiteenlopend is.

Daar is diegene wat baie ongelukkig voel omdat hulle nie hulle verlof nou mag neem nie, terwyl hulle wel verlof het.  Hulle wil baie graag deel van die inperking wees. Hulle voel onveilig om te gaan werk.

Dan is daar diegene wat ongelukkig is omdat hulle wel deel van die inperking moet wees.  Dit is waarskynlik meestal mense wat hul geld per uur gewerk verdien en sake-eienaars, wat uit die aard van die saak baie gaan verloor.

Daar is diegene wat kreatief na skuiwergate soek om die wet te omseil.

Daar is diegene wat nie skuiwergate soek nie, maar die reëls doodgewoon verbreek.

Ek geniet die grappe en kreatiwiteit van mense wat nou allerlei snaaksighede aanvang om die tyd te verwyl.

Daar ook is diegene wat meen dat dit baie lelik is om met so ‘n ernstige siekte te spot.  My standpunt is dat daar ‘n lag met elke traan is, en dat as ons nie die humor in bitter slegte situasies kan insien nie, gaan ons die lewe vir ons nog donkerder en erger maak.  Humor spot nie met die siekte nie, met die mense wat ly nie, maar soek verligting in ‘n situasie wat almal benoud maak. Ons Suid-Afrikaners is meesters daarvan om humor in situasies in te sien en kreatief daarmee om te gaan.

Dan is daar die beterweters. Mense wat nie die erns van die siekte besef nie. Mense wat die reëls blatant ignoreer.   Verstaan mooi, ek het bitter baie begrip vir armoede, vir die mense tans in rye in winkels hulle beurte staan en afwag, mense wat afhanklik is van openbare vervoer, hawelose mense, mense wat in plakkerskampe woon met groot gesinne en dit moeilik gaan vind om hulle te isoleer.  Ek het ook baie begrip vir mense wat skelm in ‘n stil straat met hulle honde wil gaan stap, vir die man wat ‘n boete gekry het omdat hy op sy sypaadjie geskoffel het. Sulke mense is nie ‘n gevaar vir ander solank hulle die 2 meter reël gehoorsaam en sorg dra dat hulle alleen in hul area is nie.  Die probleem is natuurlik dat, sodra die reël verslap word, daar te veel gaan wees wat die reëls op hul eie manier toepas en wanneer almal eers met hulle honde begin stap, sal daardie strate bitter besig raak.  En die doel van die isolasie ongedaan maak.  Terwyl ek hier sit en tik, lê onse hondjie by my voete en wonder hoekom ek nog nie sedert Woensdag met haar gaan stap het nie en sy voel baie afgeskeep.

Wat ek nie verstaan nie, is die blatante ongehoorsaamheid. Mense wat in strate dominoes speel terwyl hulle drink.  Mense wat die buurte vol loop en die reëls blatant ignoreer.  Onkunde en gewaande slimheid speel natuurlik ook ‘n rol.  Ek het reeds verskeie opmerkings ook opgetel, waarvan verskeie aan rassisme grens:

  • Dit is nie ‘n Afrika-siekte nie.  Met ander woorde, Afrikane hoef nie bekommerd te wees nie, hulle gaan dit nie kry nie.
  • Die wens dat baie witmense dit kry en daarvan sterf. Wel ek het nuus vir daardie slimmes. Die meeste sterftes gaan wees daar waar die meeste HIV en TB en ander onderliggende siektes reeds teenwoordig is. En ongelukkig ook weerlose bejaardes.
  • Die samesweringsteorieë: Die virus is ontwerp in Amerika, die isolasie is ‘n manier om die wêreldregering van die Illiminati/kommuniste/China/Rusland te bevorder.

Dan is daar die keersy van die munt en dit is die polisiëring en weermag se optrede.  Hier is ook uiteenlopende reaksies. Ek het al verneem van geweld en waar op mense se kos beslag gelê is onder die voorwendsel dat hulle reëls oortree het en het ook ‘n video ontvang, wat wys hoe mense in die strate allerlei manewales uithaal soos opstote, rol rond, spring rond, onder die toesig van weermaglede, onder groot gelag, terwyl dit nie juis vir my lyk asof daar sprake is van afstand hou van ander mense nie.

Mense gaan skrik wanneer dit te laat is. En dan is dit onherroepelik te laat.

Om te Parkrun – en blogfrustrasies

Kyk, ek weet ek staan diep skuldig aan die ernstige verwaarlosing van my blogwebwerf. Dit begin ook nou al spreekwoordelik soos my tuin lyk wanneer ek lanklaas ‘n tuinman gehad het en die reën die onkruid welig laat opkom het.  Of dalk lyk dit meer soos ‘n dorre woestyn, met min inskrywings.  Maar ek het deesdae ‘n ernstige frustrasie met die opspoor van my webwerf!  Wanneer ek dit via my “favourites” wil bereik, beland ek elke keer op die inskrywing wat ek destyds as “gunsteling” gekies het.  Ek weet ek het inskrywings daarna gemaak en weet net nie hoe om daarby uit te kom nie.  Self as ek die “log-in” opsie op Google kies, kom ek net daar uit waar ‘n mens na jou statistieke en so meer kan kyk. Ek soek dus nou ernstig raad by my gesoute blogger vriende:  hoe kom ek by daardie deel van my blog uit wat julle sien, met die nuutste inskrywing bo, met ander inskrywings ondertoe??? Ek het nou ‘n redelike ompad gevolg, deur na mense se se kommentare te gaan wat by die klokkie regs bo op die skerm is en vandaar op die webwerf-skakel te kliek.  Maar ek kan eenvoudig nie glo dat dit altyd nodig is om op so ‘n ompad-manier te werk te gaan nie!! Ek soek die maklike manier asseblief.  Ek weet nie of WordPress die afgelope jaar verander het nie, maar ek het definitief nie destys só gesukkel nie!

Onse dorp, of altans dan, ons gym-eienaar het toe ook hier êrens in die middel van die winter besluit om ‘n Parkrun te reël.   Ek het egter besluit in die winter is laatslaap my gunsteling sport en het beslis nie my weg oopgesien op 8 uur in die koue reg te staan vir my stappie nie.  So twee weke gelede het ek egter besluit om my slegtigheid af te lê en te begin saamstap.  Coco gaan natuurlik saam.  Ons draf ook nie, ons stap.  Die omgewing is heel pragtig, eers ‘n entjie langs die Skurweberg verby, dan deur die bekende Dennebos, dan deur een van die omliggende plase se boorde en dan natuurlik weer terug.  Ek maak so min of meer in die agterhoede klaar en is glad nie haastig nie.  Ek doen dit deels ook om Coco plesier te gee.  Ons het in elk geval elke Saterdag gaan stap in die winter, net heelwat later en heelwat korter ente.

Die langer afstand was natuurlik ook ‘n aanpassing.  Na ons eerste stappie was Coco heeldag behoorlik pê. Dit was natuurlik ook ‘n besonder warm dag.  Die volgende dag was ek bewus van spiere waarvan ek al vergeet het!

Ek weet nie hoe lank ek dit gaan volhou nie, want een van die dae is dit sekerlik weer te warm om 8 voormiddag in die oggend nog te stap.  Van die weer gepraat, dié is heel deurmekaar deesdae.  Teen die einde van die winter het dit skielik baie warm geword en toe is dit opgevolg deur ‘n week van erge koue. Die afgelope twee weke het ek weer warmer klere gedra en bietjie winter gehou.  Vandag het die hitte weer skielik toegeslaan en is dit sommer weer behoorlik warm.  Waar is die tye van matige klimaat tog?  Dit lyk behoorlik of klimaatsverandering sy tol eis!

Maar ek hoop ek kan die Parkrun op ‘n gereelde basis doen.  Dit is veilig, dit is oefening, jy stap saam met mense, die omgewing is lieflik en dit is gesond.  Ek kan dit beslis aanbeveel!   Verlede week het Woefman en Woefklong besluit om ook mee te doen en nou is dit ‘n gesinsaktiwiteit – hoewel elkeen teen sy eie tempo stap – Woefklong het verlede week in minder as die helfte van my tyd klaargemaak en Woefman het so 10 minute na my ingeklok. Môre maak ons weer so!

 

 

 

Troetel dramas

‘n Mens besef nie regtig die waarde van jou troeteldiere tot hulle deur hulle eie traumas gaan nie. Erens in die verlede het ek al vertel van die hondjie in ons lewe, Coco. Coco is ‘n regte troeteldierwinkelhondjie, aangekoop deur my seun en ‘n gewese meise in hulle beter dae.  Toe Seun begin werk, was daar nie heinings by sy huis wat Coco sou binne hou nie en hy woon ook bietjie te naby aan ‘n redelik besige pad.  Hy vra dus mooi dat ons na Coco sal kyk. dit is nou 4 jaar later en Seun en Coco het steeds ‘n baie intieme verhouding, omdat hy gereeld oor naweke vir ons kom kuier.  Maar elke hond neem mos iemand as ekstra spesiaal aan en ek dink Coco het besluit ek is daardie persoon.

Coco is ‘n dierbare hondjie, maar het ook haar swakhede, waarvan die grootste skeidingsangs is. Wanneer ons moet weggaan, is dit vir haar en van die swaarste dinge om alleen agter te bly.  Ons het aan ons agterdeur se veiligheidshek sifdraad en kuikendraad gesit sodat dit sommer ook goggas en vlieë in die hoogsomer kan uithou.  Hierdie is al aan flarde gekrap wanneer ons weggaan en sy dink sy kan só probeer inkom en geen herstelwerk het ‘n langtermyn uitwerking nie. ‘n Volgende keer is dit maar weer dieselfde storie. Ons het gevolglik moed opgegee.

Coco het ook haar positiewe punte.  Sy is uiters lieftallig en vryerig en kry soms nie einde nie – as sy besluit het haar magie moet gevryf word, moet dit net aanhou en aanhou.  Snags slaap sy by ons in die bed, baie bederf.

Een van haar groot liefdes is stap.  Saans as ek tuis kom, kyk sy met verwagting of daar nie dalk gestap gaan word nie.  Saterdae (hoe wéét sy dit is Saterdag?) sal sy al om my draai totdat ons die Groot Daad pleeg.

Op Vrouedag kon sy nie verstaan hoekom ons nie gaan stap nie.  Ounooi is dan by die huis?  Maar Ounooi het allerlei planne gehad.  So bietjie krap aan plekke wat skoonmaak kort en daarna begin om eie en Manlief se belastings deur te werk en opsommings te begin maak van die somtotale van al die bronkodes.  Nou nie my mees geliefde werk nie, maar dit moet gedoen word.  Uiteindelik, so ongeveer 6 nm, is ek uiteindelik gereed om aan hierdie stapbehoefte te voldoen.  Iets wat ek seker lank sal berou.  Ons stap een van ons bekende roetes, maar daardie dag het mense met twee groot wolfhonde se hek per abuis oopgestaan en Coco was soos ‘n lewende teiken wat gevra het om aangeval te word.  Dit was traumaties om die aanval te aanskou en magteloos te wees om iets te doen.  Toe Wolf se eienaar eindelik daarin slaag om sy hond onder bedwang te kry, het Coco se derms uitgehang.  Dit kos ons ‘n na-uurse noodoperasie laat doen.  Die vee-artse het ons daagliks op hoogte gehou, maar waarskynlik ook nie altyd die implikasies duidelik uitgespel nie.  Coco het dae lank geworstel met koors en het uiteindelik 6 dae in die dierehospitaal gebly terwyl hulle haar koors onder beheer probeer bring.  Intussen kon ek nie gaan kuier nie, want as Coco my sou sien, sou sy nie verstaan waarom ek weer weggaan nie.  Die arts laat weet my die Dinsdag 6 dae later, hulle moet my persoonlik spreek.  Om een of ander rede verwag ek toe die ergste.  Ek kan nie die tranedal en emosies beskryf nie.  Net die vorige dag het ek vir die vee-arts gesê hulle moet asseblief nie die rekening die hoogte te laat inskiet en dan vir my sê hulle kon haar nie red nie. As ‘n slegte besluit geneem moet word, moet ons dit doen voor ons by daardie punt kom.  Die opdrag om my persoonlik te sien, het dus baie slegte verwagtinge by my geskep dat ek nou die slegte besluit moet neem.  In ‘n tranedal neem ‘n vriendin my toe ewe toe sy sien ek het nie die moed om te gaan nie.  Net om daar die blye nuus te verneem haar koors het nou effe gedaal, maar in die lig van haar skeidingsangs en die feit dat sy nie eet nie, moet sy eerder huis toe kom sodat hulle kan kyk of sy nie vinniger herstel nie.

Toe Coco uit daardie hokkie kom en in my arms geplaas word, was dit hartroerend om haar reaksie te sien.  Ek is omtrent gelek, en hoewel ek nie hou van in my gesig gelek te word nie, was daar nie ‘n manier waarop ek haar kon keer nie.

Coco het daarna verbasend goed herstel. Sy was nog moeg en moes geleidelik kragte opbou.  Twee weke later gaan ons weer stap. Sal die brak nie sowaar iets optel en begin kou en sluk nog voor ek kan keer nie.  Twee ure later is sy dodelik siek. Gooi op, eet niks, hou haar eenkant, lusteloos.  Natuurlik is dit weer naweek.  Sy is goed daarmee om goed na-ure oor te kom! Sondagaand (dag 2) neem ons haar weer vee-arts toe.  Geen infeksie, geen koors, kry pilletjies teen naarheid.  Die volgende dag gaan dit redelik, maar sy eet niks.  Dinsdag eet sy niks, ek moet een of ander manier pille in haar liggaampie kry en forseer ‘n stukkie of twee hoender in.  Daardie nag bring sy alles op. Woensdag weer vee-arts toe.  X-strale wys daar is nie obstruksie nie. Bloedtoetse wys daar is nie infeksie nie. Maar steeds eet sy nie.  Wanneer ‘n 8 kg hondjie vir 5 dae nie eet nie, gebruik sy eintlik al haar energie op.  Sy word al swakker. Kan nie eens op die bed óf afspring nie. Donderdag was ons gereed om haar na die vee-arts te neem om haar op ‘n drup te sit, toe sy begin eet.  Donderdag en Vrydag eet sy goed, maar gister en vandag is daar nog steeds die minimum geëet. Hoe gee ‘n mens antibiotika vir ‘n hond na ete as sy nie eet nie? Ek soek nog daardie antwoord!

Maar waaroor ek eintlik wil skryf, is hierdie gevoel van magteloosheid as ‘n wese wat van jou afhanklik is, nie wel is nie. Die besef dat dit my hewig ontstel en dat Coco se siekte en trauma my telkens tot trane dryf.  As sy gesond is, is sy ‘n vreugde, maar soms ook ‘n las – veral as jy êrens moet gaan en nie weet hoe om met haar te maak nie, want sy kan nie oral saamgaan nie.  Dis nie asof jy haar by ‘n hondeskuiling kan gaan los en dan ‘n vriendelike vrolike brakkie sonder emosionele skade gaan terugkry nie.  Maar as sy siek is, besef jy hoe gewoond jy aan haar teenwoordigheid geword het. As sy in die dierehospitaal is, mis jy haar en haar gewoontetjies en voel die huis leeg.

Dan is ek nogal nie ‘n mens wat outomaties lief is vir alle honde of katte nie……. Maar Coco het diep in my hart gekruip en nou kan ek ook sê ont troeteldier is soos ‘n kind in die huis….

 

 

Oor alles en nog wat

Ek was geskok toe ek nou ‘n slag weer vir WordPress en my eie blog besoek en merk dat ek meer as ‘n jaar laas hier was.  Ek dink dit is een van die simptome van oudword – kry al minder gedoen in die 24 uur tot my beskikking.  Dit wil selfs lyk of WordPress al verander het en dat die hele manier van doen nou anders as laas toe ek hier was.  Toe het ek nog op Windows Live Writer geskryf en dan die blog na die webwerf gepos.  Intussen moes ek om verskeie redes my rekenaar formatteer en ooropstel en het ek dit nog nie weer opgelaai nie.

Een van die groot redes waarom ek lank nie geblog het nie, is waarskynlik weens ‘n gevoel van  ‘n magteloosheid.  Daar is so baie dinge wat ek graag wil sê wat ek nie weet hoe om te sê nie. ‘n Mens weet ook nie meer of jy dit mag sê nie.  Dit is dalk net nie polities korrek nie. Ons leef in ‘n samelewing waar onwaarhede vir die waarheid verkondig word, halwe waarhede aangewend word asof dit hele waarhede is, fopnuus lukraak versprei word, jou eie persoonlike standpunte aangeval word deur almal wat nie met jou saamstem nie, vryheid van spraak misbruik word en rassisme blykbaar net na een kant toe werk. Persoonlik het ek moed geskep toe Zuma sy troon verlaat het, net om daarna te besef : Die ANC bly die ANC ongeag wie waar sit. Dit gaan steeds my verstand te bowe dat ‘n vakbond en ‘n regering kan saamstaan, terwyl dit eintlik twee teenoorstaande pole verteenwoordig. G’n wonder die regering word om elke hoek en draai lamgelê nie.

Maar omdat die politiek my ontstel en woordeloos laat, laat ek eerder van hierdie onderwerp afstap. Ek sal nooit al my frustrasies, gebrekkige insigte, woede en so meer in woorde tot sy reg laat kom nie.  Nie dat ek nie tog weer gaan probeer nie.  Dit lyk darem of hulle bang is vir druk en dalk ‘n paar toegewings gaan probeer maak. Net die tyd sal leer.

Ons gesinnetjie, dus nou ekke, Woefman en egte Woef-hondjie Coco, sit nou heerlik in ons bed. Dis al plek wat warm genoeg is in die snerpende Ceres-koue.  Die wêreld rondom ons is is toegesneeu: Matroosberg, Witzenbergvallei en Koue Bokkeveld.  Ek voorsien vir die volgende paar dae ‘n moontlike toeloop van besoekers.  Met die vorige sneeu vroeg in Julie, was ons gesin in Tergniet vir ons jaarlikse vakansie. Met ons terugkeer, beland ons toe in die toerismeverkeer. Die rit deur Mitchellspas wat normaalweg so ‘n kwartier duur, het ongeveer een uur geneem.

Môreoggend 7:00 moet ons reeds op Worcester wees sodat my man se katarak-lens met die kunsmatige lens vervang word.  Ongeveer 13:00 kan ons weer terugkeer.  Nou wonder ek of ons weer in die toerisme-verkeer gaan beland???

So drie weke gelede is ons gesin deur die trauma van ons hondjie wat tydens ons gereelde wandelings deur ‘n groot hond verskeur is.  Wonder bo wonder, het sy oorleef, maar is nog in die herstelfase.  Die vee-artse kos ‘n fortuin terwyl ons maar net kan hoop dat die nalatige eienaars van die groot hond ons rekening sal betaal.  Toe, gister gaan stap ons weer met ons hondjie in herstel en sal die klein teef nie sowaar een of ander stuk kos langs die pad optel, kou en sluk voordat ons iets daaraan kan doen nie.  Die gevolg is weer ‘n siek hond, ‘n vee-ars besoek buite ure en ‘n hond wat selfs nou nog nie vrolik voel nie.

Ek wonder of die deernis en moeite wat ons met die klein brakkie doen, ook ‘n ouderdomsding is.  ‘n Mens se kinders is groot, kan vir hulleself sorg en vertel ‘n mens nie eers meer van al hulle skete en kwale nie. Nou is daar hierdie hondjie wat nie kan praat nie, wat jy kan sien siek is, en wat jy troetel en pamperlang en net so bekommerd oor is as toe jou kinders klein en siek was…

Nie dat ‘n mens se kinders verhewe bo seerkry is nie.  So aan die begin van Julie, net na ons van Tergniet af teruggekeer het, is oudste Woefklong deur ‘n tref en trapper van sy fiets afgery.  Deur baie genade was hy styf en seer, maar dit was nie hospitaalsake nie.  Sy fiets het skade opgedoen, maar hyself leef en is alweer kliphard aan die oefen vir die Double Century.  ‘n Mens kan maar net wonder oor die bestuurder wat weggejaag het: Oud en halfblind, ‘n Selfoonprater wat nie weet wat rondom hom aangaan nie, iemand met babelaas en kopseer, of ‘n woedende padvark sonder empatie vir fietsryers? Of bloot ‘n lafhartige persoon wat nie die gevolge van sy dade wil aanvaar nie?  Wie sal weet?

Een van die dinge wat my deesdae baie besig hou, is die Netwerk24 aanbod om toegang tot al die koerante, streekskoerante en 11 tydskrifte te benut.  Dit is heerlik, maar jy voel ook permanent soos ‘n mens met ‘n agterstand.  Natuurlik probeer ‘n mens nie eens om alles te lees nie. Ek het maar my seleksies gemaak van wat ek wel wil lees en selfs daarmee is ek baie agter.  Een of ander tyd sal ek my keuses moet heroorweeg, want die toegang tot rekenaars, internet, sosiale media, is net so oorweldigend vol goed en my nuurskierigheid is groot!  Wat ek ook al kies, dit is altyd ten koste van baie ander goed wat ek net so graag sou wou kies!

Selfvernietigingsdrang?

‘n Mens raak stadiger soos wat jy ouer word. Dit geld nie net vir jou hardloopspoed nie. Dit is asof ‘n mens net eenvoudige nie meer 24 uur se goed in ‘n dag kan inprop nie. In my geval word die situasie sekerlik vererger deur die feit dat ek al hoe later lê wanneer dit nie vir ‘n wekker nodig is om my te herinner aan ‘n dag se pligte nie. Soos op elke Saterdag, Sondag, Werkersdag, Vryheidsdag, Jeugdag of Vrouedag.

Hierdie stadiger word, het allerlei implikasies vir hoeveel en wat ‘n mens in ‘n gegewe tyd kan uitrig. Belangrike goed bly in die slag. Soos om te gaan fietsry, of jou hand aan ‘n blog te waag, of jou ruite te was, of jou tuin reg te ruk. Jy raak al hoe meer gekonfronteer met keuses: Dit is werkersdag, gaan jy die huis ‘n lekker skoonmaak gee of eerder sit en blog? Gaan jy ‘n slag een van die voertuie was of eerder ‘n boek lees? Die verkeerde keuse is gewoonlik die lekker een en kom nie sonder skuldgevoelens nie. Die skuldgevoelens is egter nie sterk genoeg om jou ‘n beter keuse te laat maak nie!!!

Die afgelope paar maande was stil, maar nie sonder betekenis nie. Op politieke gebied is ek só stomgeslaan deur al die gebeure en dramas dat ek my maar sal weerhou daarvan om my menings en denke daaroor te openbaar. Dit is asof ek soms doelbewus nie meer die nuus wil kyk nie, nie die koerante wil lees nie, nie meer wil weet wat in die buitewêreld aangaan nie. Dit voel vir my dit word al moeiliker om tussen die waarheid, fopnuus en doelbewuste breinspoeling te onderskei. Dit is egter ook verkeerd om jou in jou eie veilige kokon toe te vou en te maak asof al die armoede, woede haat en veral vernietigingsdrang nie bestaan nie.

Vernietigingsdrang? Ek dink die ANC het ‘n onbewuste vernietigingsdrang. Daarom dat hulle klou aan hulle verkeerde keuses vir leierskap en sommer ondersteuning verleen aan nog toekomstige verkeerde keuses. Niemand hoef met my hieroor saam te stem nie, ek weet dat agter dit eintlik ‘n ongebreidelde magsbeheptheid sit. Sekere mense van Coligny het ‘n vernietigingsdrang. Daarom dat hulle ‘n hele dorp sal afbrand en vernietig in die naam van, wat? Geregtigheid? Wraak? Regstellende aksie? Woede oor die dood van ‘n kind ten opsigte waarvan die vader nie moeite doen om hom op te spoor en te gaan uitken nie? Die mense wat onverantwoordelike opmerkings op facebook maak , het ‘n onbewuste vernietingsdrang. In die naam van vryheid van spraak word allerlei opmerkings gemaak wat hulle teen hierdie tyd behoort te weet, nie ongesiens en ongestraf verby sal gaan nie.

Ons menslike spesie het ‘n vernietigingsdrang met ons eetgewoontes. Dit het ek die afgelope tyd deeglik besef nadat ek ‘n paar boeke gelees het en opnuut besef het hoe die modernisering van die mensdom, die massaproduksie, die winsgedrewendheid, eintlik maak dat ons kos al hoe minder gesond raak en hoe ons beheptheid met lekker eet ons al hoe ongesonder keuses laat maak. Ons skep ons eie diabetes, obesiteit, selfs kanker. Soms uit onkunde, maar dikwels ook uit ‘n beheptheid met die lekkerte van genot-van-die-oomblik. In my gegoogle na meer kennis oor sekere dele van hierdie onderwerp, het ek afgekom op ‘n blog wat Jimi le Roux al ‘n paar jaar gelede tong-in-die-kies hieroor geskryf het. Ek kan nogal daarmee identifiseer. Die artikel laat ‘n mens net opnuut besef dat ons oorgelewer is aan die sisteme en dat daar baie min is wat ‘n mens daaraan kan doen.

Ek moet baie versigtig wees wat ek verder hieroor skryf, want ek het al beleef dat daar baie mense is wat jou skeef aankyk en dink dat jy die kluts nou heeltemal kwyt geraak het. Ander wat jou reguit in sekere tale vertel watter onsin jy praat. As ek te min sê, gee ek te min agtergrondsperspektief vir ‘n gebalanseerde leser. As ek te veel sê, openbaar ek my gebrek aan kennis oor sekere onderwerpe, soos my ex-biologie onderwyser-man meewarig sal sê, wel wetende dat ek nie daai vak verder as standerd sewe geneem het of wou neem nie. Let wel my ex-onderwyser man, nie my ex-man nie. Ons leef nog in vrede saam ten spyte van uiteenlopende sienings oor hierdie saak. Ek is ook deeglik bewus daarvan dat daar nie absolute waarhede is nie, dat almal se sienings maar soms oordrewe na een kant toe oorhel en dat ‘n mens die balans êrens tussen-in moet vind.

Laat ek eerder my storie by die begin begin. Ek was maar altyd lief om na alternatiewe geneeskunde te kyk en het al genoeg onderonsies met geneeshere gehad om te weet dat hulle maar ook my simptome redelik oppervlakkig behandel. Ek het nog altyd geglo dat reg eet die antwoord op baie gesondheidsprobleme is, maar kon myself nie aldag sover bring om reg te eet nie. Dit is ook seker maar deel van vernietigingsdrang. Om te weet wat die regte ding is om te doen en om dit werklik te doen, is soms wêrelde van mekaar verwyder. Erens in my agterkop het ek egter wel altyd geglo dat ek sal reg eet as dit noodsaaklik word vir my oorlewingsdrang. Toe ek dus ‘n baie netelige maar tog baie pynlike probleempie ontwikkel (met die naam van aambeie), was die verleentheid daarvan genoeg om my na Dr Google te laat gryp eerder as om ‘n geneesheer te besoek. Dit was ‘n redelike interessante soektog wat tot baie interessante ontdekkings gelei het. Eerstens is daar natuurlik die talle boererate. Dan die Chinese salwe en pille (waarvan laasgenoemde terloops met groot soektogte, glad nie in Suid-Afrika gevind kon word nie en ek ook nie ingevoer kon kry nie). Hierdie rate is almal daarop gemik om die simptome te behandel en die aambei se pyn te verlig of oor tyd te laat weggaan. Tipiese simptoombehandeling. Dan is daar die oneindige verwysings na twee boeke wat ‘n mens kan koop, natuurlik deur Amerikaners geskryf en wat jy in dollars moet betaal. Ek was eers baie teensinnig, veral vir daai dollarstorie, maar maak toe ook ‘n paar somme en vertel vir my man dat dit wat ek aan die boek gaan bestee, lag-lag ‘n doktersondersoek of twee sal kan betaal, indien ek dan nou nie laasgenoemde stap neem nie.

Om te kies watter een van die 2 boeke ek moet koop, was maklik. Die een gee drie gratis e-boeke by en klink dus outomaties na die beter waarde vir geld.

Ek begin toe die boek met groot verwagting lees, later nie sonder opstand nie. Die boek is natuurlik in Amerikaanse Engels en boonop het dit ‘n Amerikaanse verwysingsraamwerk, met die gevolg dat elke enkele kruie en pil en salf vir my vreemd is en ek nie weet wat dit in Afrikaans genoem word of selfs net waar ek dit kan kry nie. Ek weet nou nog nie regtig nie en moet eerlik bely dat ek toe maar na ‘n paar bekende goed gegryp en die hele proses vir myself verSuid-Afrikaans het – my eie weergawe.

Om terug te kom tot die kern van die boek: Aambei is ‘n simptoom en die oorsaak is spysverteringsprobleme. Spysverteringsprobleme word veroorsaak deur toksemie as gevolg van ons verkeerde eetgewoontes, deur te veel suur en gevolglik candiase. Die oplossing is eenvoudig: Reinig en detoksifiseer jou spysverteringstelsel! Roei sommer terselfdertyd die candiase uit, ontwurm en ontparasiteer jouself. En sorg dat jy daarna reg eet.

Hoe detoksifiseer jy? Deur te vas natuurlik. Die vas self loop in ‘n paar fases. In fase een eet jy net vrugte en groente vir so vier dae en die laaste dag of dalk twee net rou groente en vrugte. In fase twee doen jy die “juicing-ding”, d.w.s. jy koop vir jou ‘n versapper en drink net vrugte en groente-sappe vir so drie dae. Toksiese stowwe sal nie jou liggaam self verlaat nie, jy moet dit bewerkstellig deur enema’s. Gedurende die hele proses, moet jy nie kraanwater gebruik nie, want dit is gelaai met allerlei onsuiwerhede en swaar metale. Koop mineraalwater of sorg dat jou water gefiltreer is.

Nou moet ek eerlik beken: Ek was bietjie skepties en huiwerig. Eerstens was ek reeds gefrustreerd omdat ek nou nie toegang tot al die Chinese salwe en pille kon kry nie. Ek het gedog dit moet nou ten alle koste deel van die behandeling wees. Ek het wel ‘n alternatiewe Chinese salf opgespoor sowel as ‘n goeie Afrika kruiepil. Ek was veral skepties oor die vas-besigheid, want eerstens is ek mos lief vir my kossies en tweedens sou die aankoop van ‘n “juicer,” enema en waterfilter nog ekstra uitgawes meebring. Ek begin toe met so ‘n halfhartige amper-reg eet – minstens net vrugte en groente en intussen moet ek eers weer navorsing doen waar om al die ander goed te kry, want op Ceres is dit nie. Uiteindelik na nog ‘n dag van pyn en lyding besluit ek ek sal hierdie raad nougeset volg en alles aankoop wat aangekoop moet word: “Versapper (die goedkoopste wat jy kan kry, nie die aanbevole R2000 produk nie); enema en filterbeker (laasgenoemde darem sommer by Clicks raakgevat). Terwyl ek wag vir my bestellings om per koerier op te daag, lees ek die boek klaar en volg solank op met die volgende boek. Was hierdie boek nou ‘n openbaring van ‘n ander aard. Skielik het ek die proses van vas en die waarde van vas baie beter verstaan en besluit om my vas baie noukeurig en reg te volg en sommer aan te vul met ‘n watervas. Ek neem my ook voor om daarna baie beter aandag aan my eetgewoontes te gee.

Nou kyk, vas is nie lekker nie. Ek het in die hele tyd net water, vrugte en groentesappe en bitter kruietee gedrink. Dis nou rooibostee, heuningbostee, gemmer- en lemoentee, rooibos vanillatee en ‘n mengsel van rooibos-heuning en aalwyntee. Laasgenoemde veral was galbitter en op dag 8 het ek een besluit geneem: so ongesond soos dit mag wees, my versoetertjie sal ek gebruik.

Die eetreëls wat ‘n mens moet volg,is eintlik baie eenvoudig, maar vir ‘n boeremeisie wat op aartappels rys en vleis grootgemaak is, tog ‘n groot opoffering. Ek slaag nou nog nie daarin om streng by hierdie reëls te hou nie!

· Moenie drink terwyl jy eet nie.

· Moenie gekonsentreerde kosse saam eet nie. Dit is nou kosse wat min vog bevat, bv vleis of neute.

· Moenie vrugte saam met gekonsentreerde kosse eet nie.

· Moenie gekookte groente saam met vrugte eet nie.

· Moenie stysel saam met vleis eet nie – eet dit saam met vrugte of groente.

Ek gaan nie verder op die behandeling van die probleem ingaan nie, want dit is nie die doel van hierdie blog nie. Ek kan maar net sê dit het gewerk en my probleem is iets van die verlede. Die groot uitdaging is nou om my leefstyl sodanig volhoubaar te verander dat dit nie terugkeer nie. As ekstra bonus vir die opofferings van die vas, is ek nou 4 kilogram ligter. Ek het sewe verloor tydens die vas, maar ‘n mens tel dit vinnig weer op wanneer jy begin eet, al eet jy hoe “reg.”

Die tweede boek wat ek gelees het se titel is:

How and when to be your own Doctor, deur Dr Isabelle A Moser and Steve Solomon. Ek gaan nie in die detail van die boek uitbrei nie. Natuurlik is die skrywers ‘n sekere standpunt toegedaan en natuurlik is daar baie kritiek op die geneigdheid van geneeshere om simptome te behandel in plaas van die oorsaak. Hulle het beslis ‘n punt beet. Ek glo hulle standpunte oor die waarde van korrek eet, maar sal dit waarskynlik nooit tot op die uiterstes kan volg nie. Inteendeel, ek haak reeds vas by die organies eet gedeelte. Natuurlik sal ek graag organies wil eet, maar, ek is nie ‘n in posisie om self my eie kos te kweek nie, ek kan nie organiese produkte volhoubaar bekostig nie en organiese produkte is bitter skaars op plattelandse dorpies. Ek sal my waarskynlik ook nie in geval van ernstige siekte self kan genees nie, want saam met dit waaroor ek netnou sal uitbrei, kom ook weer talle kruie en goed wat ek nie ken nie, nie vrye toegang het nie en nie gaan weet wanneer en hoe om te gebruik nie. Ek weet wel dat ek waarskynlik in so ‘n geval eerder ‘n homeopaat of naturopaat sal besoek as ‘n gewone geneesheer – ter wille van die beginsel om die oorsaak te behandel eerder as die simptome.

Daar is egter een punt wat ek wel koop, handel oor die waarde van vas. Ons het grootgeword om te dink dat vas ‘n godsdienstige gebruik is wat jy uitvoer om sekere verligting in jou gemoed oor kwessies te kry, of bloot as deel van ‘n godsdienstige ritueel, soos die Moslems se Ramadaan. Vas het egter besondere gesondheidsvoordele. Tydens vas gee jy jou organe kans om ontslae te raak van die talle toksiese stowwe wat opgebou het as gevolg van verkeerde eetgewoontes. Hulle kan dus ook met ‘n lang genoeg vas in ‘n toestand van rus ingaan en geleentheid kry om te genees. Vir gesonde mense word ‘n vas van 12 dae per jaar aanbeveel, met die toegewing dat jy dit op alternatiewe maniere kan doen, byvoorbeeld, een dag per week, twee dae agtermekaar per maand ensovoorts.

Iets anders waarvan ek baie bewus geraak het, nie net deur die boek nie, enige gegoogle deur talle internet artikels sal dit kan bevestig, is hoe ongesond ons kosse geraak het. Joghurt het lank nie meer die gesondheidsvoordele van weleer nie, want die melk word gekook of gepasteuriseer of wat ook al. Ons vrugte en groente word gekweek in arm gronde en vol gif gespuit om die goggas weg te hou. Margarien word van teer gemaak, so ook die versoeters wat ek gebruik. Die koeie en hoenders en skape en varke word vol antibiotikas gespuit om hulle gesond te hou, die arme hoenders sit heeldag in klein hokkies en eiers lê en het gee lewe nie. Om nie te praat van hoe ongesond ons geliefde gaskoeldranke is nie – VERAL die dieetmodelle, soos Tab en Dieet Coke.

Jul sien dus liewe vriende, ek was verkeerd toe ek gedink het dit is net rokers, dwelmslawe, kwaai drinkers en mense met ernstige obesiteit wat ‘n selfvernietigingsdrang het met hulle leefstylgewoontes. Ons het dit almal, want ons help skep aan ‘n samelewing waar ons altyd gryp na die volgende nuutjie en verleidelike resep: hoe meer room, hoe lekkerder. Ons peusel ons dood aan aartappelskyfies en neute en koekies en drink ons nie net dood aan alkohol nie, maar ook gewone koeldranke. Die wêreld daarbuite het ‘n slagveld geword waar net die sterkstes sal oorleef. Om nie te praat van al die bestraling wat ons deur ons selfone, internet en so meer optel nie.

Wat van myself? Ek probeer nou kliphard kyk na my leefstyl en eetgewoontes, maar weet ook dat, soos geleenthede opduik om lekker en verkeerd te eet, soos die versoekings voor my neergesit word, soos wat die inhoud van die boek vervaag, ek ook weer in verkeerde eetgewoontes sal verval. Totdat die volgende aanval van aambeie, of op watter manier my verkeerde eetgewoontes ook al wil presipiteer, weer toeslaan.

Op ‘n baie meer ernstige noot: Ek wens dat mense tog meer bewus gemaak wil word van die gevare van ons verkeerde lewensstyle. Ek noem aan ‘n verpleegsuster die inhoud van die boek en dat geneeshere mos net simtoomverligting doen. Sy sê toe presies wat Dr Moser se boek ook sê: Geneeshere doen dit omdat mense nie gereed is om die waarheid onder die oë te kyk nie. Ons wil pille hê wat ons gesond maak en nie hoor dat ons met ‘n vas en met ‘n gesonder lewensstyl self iets aan ons probleem kan doen nie. Dit is as’t ware ons selfvernietigingsdrang in aksie.

N.S.

Hierdie blog is tong-in-die-kies geskryf rakende die kwessie van selfvernietiging. Daar is egter baie waarheidsmomente in!  Die kwessie van gesonde leefstyl en eetgewoontes is dodelik ernstig.  Iemand wat die saak ernstig opneem, sal egter self dieper lees en nie op hierdie bietjie oppervlakkige inligting staatmaak nie.

Die boeke wat ek gelees het:

Hemmorhoid No More – Jessica Wright. Ek beveel die boek sterk aan vir mense met aambeie, dit is beter raad as boererate omdat dit die probleem by die oorsaak aanspreek.

http://www.hemorrhoidnomore.com/

How and when to be your own Doctor, deur Dr Isabelle A Moser and Steve Solomon

Lessons from the Miracle Doctors – Jon Barron

En nog ander wat ek nie nou hier gaan noem nie. ‘n Mens kry die ander drie boeke wanneer jy Jessica Wright se boek bestel. Alle boeke is slegs elektronies beskikbaar.

RESEP VIR PERSOONLIKE GROEI–Lê JOU HAAT EN WOEDE AF EN VERGEWE

Miskien is almal nie toegewyd aan persoonlike groei nie. Mense is immers verskillend en hulle lewensdoelwitte is verskillend. Persoonlik glo ek dat persoonlike groei die wenresep tot ‘n sinvolle en suksesvolle bestaan is. Ek het nog nie gehoor van mense wat geen doelwitte vir hulleself stel, wat wel uitermate sukses in die lewe bereik het nie. Ek herinner my aan ‘n navorsingstudie wat ek eenmaal gelees het, waarop ek ongelukkig nie nou my hande kan lê nie, daarom ontgaan die presiese syfers my. Die studie het behels dat ‘n klomp pas afgestudeerde studente oor hulle lewensdoelwitte uitgevra is. Daar is ook gevra wat hulle met hulle doelwitte doen? Een groep het gesê dat hulle dit neerskryf en doelbewus najaag. Die tweede groep het te kenne gegee dat hulle hul doelwitte in hulle kop het, maar dit nie neerskryf nie. Die derde groep het gee besondere doelwitte gestel nie. Na 10 jaar is dieselfde groep mense opgespoor en daar is ingegaan op wat hulle verdien, watter posisies hulle beklee en hulle mate van sukses. Die groep wat hulle doelwitte neergeskryf het, het merkwaardig beter presteer as die tweede en derde groepe en het ook aansienlik beter verdien. Die tweede groep het beter verdien as die derde groep, maar was steeds merkbaar agter by die eerste groep.

Toegegee, nie almal se waardes is ingestel op maksimum verdienste en rykdom nie. Dit gaan ook nie noodwendig altyd oor rykdom nie, maar oor sakesukses, bevredigende werksomstandighede, die gevoel dat jy iets bereik het.

Ons sit in Suid-Afrika met omstandighede van besondere ongelykheid. Ons hoor aldag dat die verskil tussen die rykstes en die armstes die grootste in die wêreld is. Ek gaan dit nie betwis nie, ek wil net myself verklaar: Ek is nie een van die armstes nie, maar ook nie een van die rykes nie. Ek lê seker maar êrens in die laer middel. In terme van geld kan ek dus nie van besondere sukses praat nie. Ek meet my sukses of gebrek daaraan dalk net aan ander dinge as geld. Wat ek wel van myself kan sê, is dat ek toegewyd is aan persoonlike groei en lewenslange leer. Ek hoop om op 80 nog steeds te kan sê dat ek besig is om te werk aan nuwe vaardighede, of beter kommunikasievermoëns, of dalk ‘n sterker karakter. Wat my doelwitte vir daardie tydperk ook al mag wees!

Die vraag wat ek egter nie anders kan as om myself af te vra nie, of oor te wonder nie, is oor die miljoene werklose armes in ons land. Die regering laat dit altyd klink asof alle armoede te wyte is aan uitbuiting deur die rykes in die verlede en ek wil op geen manier ontken dat uitbuiting wel en dalk meer dikwels as wat ons graag wil erken, plaasgevind het nie. Maar ek dink darem dit is te ‘n gemaklike antwoord om alle armoede van vandag aan uitbuiting toe te skryf. Natuurlik pas dit die regering van die dag om hierdie gedagte holrug te ry. Hulle het die besondere gawe ontwikkel om allerlei wette te maak wat veronderstel is om die armes te bevoordeel, maar hoe meer wette hulle maak, hoe meer word die armes benadeel. Byvoorbeeld ons arbeidswette wat werkgewers huiwerig maak om nog mense in diens te neem. Die goedbedoelde “all pay” wat armoede moet verlig, maar uitstekend daarin slaag om nog talle meer “ongewenste kindertjies” (bedoelende wat die ouers om die verkeerde rede in die wêreld gebring het en nie voor kan sorg nie) in die wêreld te help besorg ter wille van ‘n skamele paar honderd rand per maand – nog kinders wat nie geleentheid gaan kry nie en nog kinders wat êrens by die sisteem gaan uitval, waarvoor ‘n swak onderwyssisteem dan weer die skuld moet kry, sonder om te veel vrae te vra oor ouers se betrokkenheid by hulle kinders, die kinders se vermoë om te leer, ouers se vermoë om die waarde van onderrig in te sien en dit aan te moedig, die rol wat bendegeweld, dwelmhandel en so meer speel in die swak skooluitset.

Waaroor ek eintlik vandag wil skryf, is die rol wat doelgerigte nastreef van persoonlike groei speel in mense se sukses en die vermoë om uit te styg. Persoonlike groei kan baie dinge behels, byvoorbeeld studie om meer kennis te bekom, inoefening van vaardighede tot jy ‘n meester op die gebied is, bereidheid om nie eensydig een stuk kennis en vaardigheid te bekom nie, maar ook ander, sodat die verbintenis tussen vaardighede later kan lei tot ‘n unieke samestelling van vaardighede wat jou ‘n kenner maak. Persoonlike groei kan egter ook behels om jou persoonlike vrese te oorkom, om ten spyte van introversie te leer funskioneer in ‘n ekstroverte wêreld. Die belangrikste vorm van persoonlike groei lê egter in die vorming van en groei in jou karakter. Ons almal leer oor die jare dalk om ons ongeduld te beteuel en meer geduldig te wees, of om ons humeur beter in toom te hou of om ons harde kante te slyp tot dit sagter op die karakter val.

Een van die belangrikste dinge waarin ‘n mens persoonlik kan en moet groei, is egter in die vermoë om te vergewe. Die rede hiervoor is dat onvergewensgesindheid lei tot bitterheid en bitterheid vergiftig jou siel. Net soos ‘n plant wat met gif gespuit is, nie kan floreer en groei nie, so is dit met die mens ook. Iemand het tereg gesê: Om nie te kan vergewe nie, is soos om elke dag ‘n lepel gif te drink en te glo die ou wat jou onreg aangedoen het, sal doodgaan.

Net so is dit in die politiek ongelukkig ook. Mense word opgestook met haat en skeefgetrekte boodskappe ter wille van partypolitieke belang. Dit pas die agenda van ‘n hele paar partye om die geskiedenis verkeerd aan te haal en te hamer op die onregte van die verlede. Dit het die inding geraak om wit mense te “name” en te “shame.” Hiervolgens sal alle grond gesteel wees, is dit blykbaar Afrikaners wat myne begin en swartes uitgebuit het (daar word gerieflikheidshalwe vergeet dat Afrikaners deel van die uitgebuite mynwerkers was), was dit die boere wat mense uitgebuit het en was die Engelse nog altyd engelties.  Die kompleksiteit van ons geskiedenis raak verlore in die eensydigheid. Omdat ek nie ‘n histroikus is nie, gaan ek nie verder hierop in nie en is dit ook nie die doel van hierdie skrywe nie.

Ek wil eintlik net vir alle mense wat vasgevang is in ‘n kultuur van haat en woede,

Vir alle mense wat glo onreg kan met nuwe onreg reggemaak word,

Vir alle mense wat die geskiedenis verdraai vir politieke gewin,

Vir alle mense wat met armoede worstel en daaruit wil kom, die volgende sê:

Die lewe is nie regverdig nie en alle mense van alle rasse, tale en kulture het al met onreg te doen gekry.

Om daaroor te tob en broei en ‘n haat te ontwikkel, vergiftig jou eie siel.

As jy nie kan vergewe nie, kan jy nie groei nie.

As jy nie kan groei nie, gaan alles bly soos dit altyd was vir jou en gaan jy nêrens kom nie.

Dis waar, almal het ‘n hupstoot êrens nodig. Hulp uit een of ander oord kan daardie hupstoot wees. Maar dan moet jou eie selfdissipline, jou eie doelgerigtheid, jou eie strewe na groei, jou eie aflê van die dinge van die verlede inskop, anders gaan die hupstoot jou nêrens bring nie.

Hou op om altyd die skuld by ander mense te soek en begin net vandag by jouself. Lê jou haat, bitterheid, woede, onvergewnsgesindheid af, sodat jy kan begin vorentoe kyk en vorentoe leef. Die lewe is te kort om in die ellende van geestelike armoede te leef.

Die grootste geskenk wat enige politieke party aan sy kiesers kan gee, is om hulel te bemagtig met hierdie boodskap: As jy wil vorentoe, lê die verlede af en dink nuut oor dinge.

Is dit te veel gevra?

Terugblik en vooruitskouing

Met die deurkyk van talle facebookinskrywings, merk ek telkens dat verskeie mense opmerk dat 2016 ‘n slegte jaar was. Ek weet nie of dit verwys na hulle eie omstandighede en of dit na die land se omstandighede oor die algemeen verwys nie. In Suid-Afrika was dit in vele opsigte inderdaad nie ‘n maklike jaar nie. Terwyl die droogte knel, het kospryse die hoogte ingeskiet. Ek raak soms bang as ek die winkels invaar en besef hoeveel duurder artikels alweer is as die vorige keer toe ek daar was of die item aangekoop het. Werkloosheid het die hoogte ingeskiet. Studente was in opstand oor hulle goed verniet wil hê wat nie sommer net so verniet uitgedeel kan word nie. Talle mense is vermoor, op plase, in townships en op allerlei plekke. Dikwels vir so min as ‘n paar rand of ‘n selfoon. Op finansiële front het ek ook ervaar dat die belegginkies wat vir aftrede opsy gesit is, glad nie na wense wil groei nie, terwyl die aftreedatum al nader kom.

Van die grootste negatiwiteite was natuurlik op politieke terrein. Die Zumas en Zuptas het die toneel oorheers. Wit mense wat rassistiese opmerkings gemaak het, het in onguns gekom en is soms swaar gestraf en nuwe wetgewing is in die vooruitsig gestel om dit ‘n sonde te maak om rassisties te wees. Nie noodwendig iets verkeerd met die beginsel nie, want rassisme spruit uit ‘n onvolwasse en valse meerderwaardigheid en dikwels uit onkunde en eensydige blik op mense van ‘n ander rassegroep. Ongelukkig word rassisme net na een kant toe raakgesien en kan die Malemas, Zumas en Kie’s en studente en swart mense net sê wat hulle wil van wit mense, want rassisties kan hulle konsuis nie wees nie. Ek voorsien dat die wet sy doel gaan mis en meer verdeeldheid as ooit gaan bring as gevolg van die manier waarop dit toegepas gaan word.

Afrikaans op universiteite het gesneuwel. Standaarde op skool het gesneuwel en gaan vinnig agteruit, soos aangewys deur internasionale toetsing en vergelyking wat gereeld plaasvind. Waardes is vinnig aan die sneuwel, want die nuwe standaard is korrupsie en die goue reël is dat jy nie uitgevind mag word nie.

Dieselfde mense wat sê dat 2016 ‘n slegte jaar was en dat hulle uitsien na 2017, het waarskynlik die verwagting dat 2017 beter gaan wees. Op grond waarvan? Dis nie vir my duidelik nie. Dit sal baie help as dit op baie plekke lekker gaan reën ja. Maar die politieke sirkus gaan maar dieselfde bly en werkskepping sal nie verbeter voordat ‘n paar vriendeliker wetgewings en aansporings nie ingestel word nie. Waardes gaan nie verbeter voordat elke mens nie voor sy eie deur gaan vee en hom opnuut verbind tot goeie karakter nie – om nie gesteelde goed by ander te koop nie, nie verkeermense ens om te koop nie, om op ‘n eerlike manier sake te doen, om lewe na waarde te skat en so meer.

2017 gaan net so goed of sleg wees soos wat ons hom maak. Ons is almal die slagoffers van hoër pryse, die slegte nuus op radio en TV, die droogte., die politieke narrespul. Dit kan ons negatief stem of ons kan kies om positief te bly. Ons kan onsself verlaag tot slagoffer van omstandighede of oorwinnaar oor uitdagings. Ons kan in mismoed verval of glo in die krag van gebed en meer daarvan maak. Ons kan deel word van die rassisme prentjie, of ‘n verskil maak met ons respekvolle optrede teenoor alle mense.  Ons sal moet leer om teenoor mekaar verantwoordbaar te wees as ons die wêreld ten goede wil verander.

Ten spyte van al die slegte dinge in 2016, kan ek eerlik sê die Here was vir my goed. Ek het ‘n werk gehad – en het ek nie gewerk nie! 5 miljoen mense in hierdie land het nie daardie voorreg gehad nie. Ek het elke dag genoeg gehad om te eet, wat meer is as wat baie mense kon sê. Toe ons 1997-model motor gebreek het, kon ons dit laat regmaak en bekostig om daarvoor te betaal, al kan ons nie ‘n nuwer en beter motor bekostig nie. My kinders lei ‘n positiewe en hardwerkende lewe en is nie soos talle ander die slagoffer van bendegeweld, werkloosheid, dwelmverslawing en so meer nie.

Daarom het ek ook ‘n hoop en vertroue vir 2017. Dat ons genoeg sal hê om oor te lag, al is dit vir die politieke narrespul. Dat ons na teenspoed die trane sal kan afdroog en weer kan glimlag. Dat ons die gesondheid sal kan behou en weer (hard) sal werk. Ek vertrou dat dit met al die bloggers sal goed gaan. My hart gaan uit na almal wat reeds moed en hoop verloor het vir ‘n beter môre. Daar is talle van hulle.

Mag genoeg reën ons gronde tref en in die damme opgaar en mag dit ‘n stimulus wees vir werkverskaffing en ‘n beter môre vir talle.

Slegte dinge gebeur met almal een of ander tyd. Gelukkig gebeur goeie dinge ook van tyd tot tyd met almal. Mag ons leer om te leef uit dankbaarheid en in liefde en deur genade. Voorspoed vir 2017.