Oor alles en nog wat

Ek was geskok toe ek nou ‘n slag weer vir WordPress en my eie blog besoek en merk dat ek meer as ‘n jaar laas hier was.  Ek dink dit is een van die simptome van oudword – kry al minder gedoen in die 24 uur tot my beskikking.  Dit wil selfs lyk of WordPress al verander het en dat die hele manier van doen nou anders as laas toe ek hier was.  Toe het ek nog op Windows Live Writer geskryf en dan die blog na die webwerf gepos.  Intussen moes ek om verskeie redes my rekenaar formatteer en ooropstel en het ek dit nog nie weer opgelaai nie.

Een van die groot redes waarom ek lank nie geblog het nie, is waarskynlik weens ‘n gevoel van  ‘n magteloosheid.  Daar is so baie dinge wat ek graag wil sê wat ek nie weet hoe om te sê nie. ‘n Mens weet ook nie meer of jy dit mag sê nie.  Dit is dalk net nie polities korrek nie. Ons leef in ‘n samelewing waar onwaarhede vir die waarheid verkondig word, halwe waarhede aangewend word asof dit hele waarhede is, fopnuus lukraak versprei word, jou eie persoonlike standpunte aangeval word deur almal wat nie met jou saamstem nie, vryheid van spraak misbruik word en rassisme blykbaar net na een kant toe werk. Persoonlik het ek moed geskep toe Zuma sy troon verlaat het, net om daarna te besef : Die ANC bly die ANC ongeag wie waar sit. Dit gaan steeds my verstand te bowe dat ‘n vakbond en ‘n regering kan saamstaan, terwyl dit eintlik twee teenoorstaande pole verteenwoordig. G’n wonder die regering word om elke hoek en draai lamgelê nie.

Maar omdat die politiek my ontstel en woordeloos laat, laat ek eerder van hierdie onderwerp afstap. Ek sal nooit al my frustrasies, gebrekkige insigte, woede en so meer in woorde tot sy reg laat kom nie.  Nie dat ek nie tog weer gaan probeer nie.  Dit lyk darem of hulle bang is vir druk en dalk ‘n paar toegewings gaan probeer maak. Net die tyd sal leer.

Ons gesinnetjie, dus nou ekke, Woefman en egte Woef-hondjie Coco, sit nou heerlik in ons bed. Dis al plek wat warm genoeg is in die snerpende Ceres-koue.  Die wêreld rondom ons is is toegesneeu: Matroosberg, Witzenbergvallei en Koue Bokkeveld.  Ek voorsien vir die volgende paar dae ‘n moontlike toeloop van besoekers.  Met die vorige sneeu vroeg in Julie, was ons gesin in Tergniet vir ons jaarlikse vakansie. Met ons terugkeer, beland ons toe in die toerismeverkeer. Die rit deur Mitchellspas wat normaalweg so ‘n kwartier duur, het ongeveer een uur geneem.

Môreoggend 7:00 moet ons reeds op Worcester wees sodat my man se katarak-lens met die kunsmatige lens vervang word.  Ongeveer 13:00 kan ons weer terugkeer.  Nou wonder ek of ons weer in die toerisme-verkeer gaan beland???

So drie weke gelede is ons gesin deur die trauma van ons hondjie wat tydens ons gereelde wandelings deur ‘n groot hond verskeur is.  Wonder bo wonder, het sy oorleef, maar is nog in die herstelfase.  Die vee-artse kos ‘n fortuin terwyl ons maar net kan hoop dat die nalatige eienaars van die groot hond ons rekening sal betaal.  Toe, gister gaan stap ons weer met ons hondjie in herstel en sal die klein teef nie sowaar een of ander stuk kos langs die pad optel, kou en sluk voordat ons iets daaraan kan doen nie.  Die gevolg is weer ‘n siek hond, ‘n vee-ars besoek buite ure en ‘n hond wat selfs nou nog nie vrolik voel nie.

Ek wonder of die deernis en moeite wat ons met die klein brakkie doen, ook ‘n ouderdomsding is.  ‘n Mens se kinders is groot, kan vir hulleself sorg en vertel ‘n mens nie eers meer van al hulle skete en kwale nie. Nou is daar hierdie hondjie wat nie kan praat nie, wat jy kan sien siek is, en wat jy troetel en pamperlang en net so bekommerd oor is as toe jou kinders klein en siek was…

Nie dat ‘n mens se kinders verhewe bo seerkry is nie.  So aan die begin van Julie, net na ons van Tergniet af teruggekeer het, is oudste Woefklong deur ‘n tref en trapper van sy fiets afgery.  Deur baie genade was hy styf en seer, maar dit was nie hospitaalsake nie.  Sy fiets het skade opgedoen, maar hyself leef en is alweer kliphard aan die oefen vir die Double Century.  ‘n Mens kan maar net wonder oor die bestuurder wat weggejaag het: Oud en halfblind, ‘n Selfoonprater wat nie weet wat rondom hom aangaan nie, iemand met babelaas en kopseer, of ‘n woedende padvark sonder empatie vir fietsryers? Of bloot ‘n lafhartige persoon wat nie die gevolge van sy dade wil aanvaar nie?  Wie sal weet?

Een van die dinge wat my deesdae baie besig hou, is die Netwerk24 aanbod om toegang tot al die koerante, streekskoerante en 11 tydskrifte te benut.  Dit is heerlik, maar jy voel ook permanent soos ‘n mens met ‘n agterstand.  Natuurlik probeer ‘n mens nie eens om alles te lees nie. Ek het maar my seleksies gemaak van wat ek wel wil lees en selfs daarmee is ek baie agter.  Een of ander tyd sal ek my keuses moet heroorweeg, want die toegang tot rekenaars, internet, sosiale media, is net so oorweldigend vol goed en my nuurskierigheid is groot!  Wat ek ook al kies, dit is altyd ten koste van baie ander goed wat ek net so graag sou wou kies!

3 thoughts on “Oor alles en nog wat

Lewer kommentaar