Introversie, ekstroversie en inperking

Ek is besig om vir die tweede keer ‘n boek te lees rakende introversie, met die Titel “Quiet” deur Susan Cain.  Wel, eintlik jok ek so ‘n bietjie, ek het die hele boek geruime tyd gelede gelees en toe lank laat lêen toe weer so elke nou en dan ‘n hoofstuk gelees. Tans is ek al vir ’n geruime tyd so halfpad met die tweede lees.  Met baie ander leeswerk tussen-in. Daarom kan ek nou nie ‘n netjiese opsomming gee van wat ek geleer het nie, maar die boek handel basies oor introversie en die verskil tussen introverte en ekstroverte.  Sy maak ‘n groot saak daarvoor uit dat introverte verkies om alleen en op hulle eie te werk, soos byvoorbeeld Steve Jobs se vennoot Steve Wozniak, wat heeltemal tevrede was om weke alleen in sy motorhuis te swoeg om die hul rekenaar te ontwerp en te ontwikkel en hoofsaaklik op die agtergrond te werk terwyl Steve Jobs in die kalklig besig was.  Die voor- en nadele en verskille tussen die twee persoonlikheidstipes word bespreek.

Die verskil tussen die twee is dat introverte hul energie uit hulleself haal, terwyl ekstroverte dit by ander mense kry.

Self is ek ‘n bitter groot introvert.  Let wel, mense verwar dit soms met stil-wees, wat nie werklik die geval is nie.  Ek het geen probleem om saam met my kollegas te werk nie, ek geniet die sosiale byeenkomste wat formeel gereël word, en hoewel ek meestal ‘n stille waarnemer in groepe is, kan ek ook gesels en luister.  Maar dit is dit.  Ons gesin is nie een vir rondkuier nie; dit put my skoon uit om te hoor hoe baie ander mense kuier. As ek in ‘n week twee aande iets anders gedoen het as die gewone, dink ek ek was vreeslik besig.  Hoewel ek graag gesels, moet dit interessante onderwerpe wees. Los praatjies oor goed wat my nie interesseer nie, verveel my gou.

Maar die bedoeling is nie dat hierdie onderwerp oor my moet gaan nie.  Ek het sommer net begin wonder hoe ekstroverte versus introverte hierdie tyd van inperking beleef?  Self het ek nogal uitgesien na die inperking en gedink dit sal lekker weer om van die huis af te werk. Dit beteken dat ek so klein bietjie later kan opstaan (my groot swakheid), my nie hoef te bekommer oor wat ek aantrek nie (ek kan al my stokou lekker-dra goed uit die kas opdiep) en sommer net hier produktief wees.  Dit is vir my ‘n uitdaging om te kyk hoe lank dit vir my “lekker” is.

In alle billikheid moet ek sê dat my werkgewer noodsaaklike dienste lewer en dat ek met ‘n spesiale brief gewapen mag werk toe gaan, hoewel ons aangemoedig word om soveel moontlik tuis te werk.  Vrydag, dag 1 het ek ernstige aanmeldingsprobleme op rekenaar na ons bedieners ervaar en later net vinnig ingegaan om vir myself ‘n klompie dokumente te e-pos sodat ek daarop kan werk.  Maandag en Dinsdag was ek baie soet tuis en het ek gedoen wat ek kon, maar vanoggend het ek vir die voormiddag werk toe gegaan waar daar minstens ‘n skandeerder en drukker is, sodat ek ‘n paar goed kon afhandel.  Ek weet nie of dit die gebreekte ondersese kabel is en of my IDV ander probleme het en of die probleem by my werkgewer se bedieners lê nie, maar ons word kort-kort uitgeskop.  Ek kon vandaar dus ‘n baie meer produktiewe oggend hê en weer ‘n klompie verslae trek, waarmee ek vir die volgende twee dae tuis kan werk.

Waaroor ek wonder is:  Is die mense wat sulke kreatiewe video’s maak net meer kreatief as ander, of ook meer ekstrovert?  Verveel hulle hul baie meer tuis as introverte?

Ek het na ‘n praatjie geluister oor die sielkundige effek van die inperking.  Is ek reg in my vermoede dat ekstroverte die inperking baie meer intens beleef as introverte?  Gaan hulle gouer gefrustreerd raak, makliker die reëls oortree?  Gouer rede vind hoekom hulle iets by ‘n winkel moet kry?

Ek sien ook uit om myself te toets, Ek dink ek moet ‘n verveeldheids en frustrasietermometer ontwikkel en elke dag myself daarop meet.  Na ‘n vakansie van twee weke voel ek dikwels ek het nou lank genoeg niks gedoen, dit is tyd vir werk…. Hoe sal drie weke tuis in my eie huis wees?

Wel, more is week een verby – of is dit nou vannag middernag?  Ons introverte in die Woef-huishouding doen maar wat ons altyd doen.  My man versorg die huis as ons amptelike butler, en doen ook die inkope, want as “bejaarde” kom hy dalk vinniger in die winkels in. ek sit heeldag agter my rekenaar en doen wat ek dink gedoen moet word. Saans draf ek al om die huis, die eerste aand 5 keer, tweede aand ses keer en so meer. Vanaand is dit nege keer. Aan die einde sal ek darem volgens my vinnige sommetjie 25 keer om die huis te kan draf. Daarna eet ons en kyk TV of lees. Daar was nog nie eens tyd vir verveeld wees of wonder wat om te doen nie…….

NS: Ek geniet die video’s en grappies van die kreatiewe tuisblyers vreeslik.

5 thoughts on “Introversie, ekstroversie en inperking

  1. Ek is ‘n goeie mengsel tussen die twee, kan myself goed besig hou, maar iewers het ek mense nodig. Tydens die inperking help whattsappgroepe my geweldig. Ek kyk nue die video’s wat mense stuur nie, maar kees elke lawwe woord, speel saam speletjies ens. Ek stap in my seun se oprit wat 70 m is, trek nou al by 6,3 km op ‘n slag en die wonderlikste ding om te sien is as daar in die straat iemand loop wat gaan kos koop. In die afgelope week was daar al 2 koskopers, 1 kar, ‘n sekuriteitswag en 2 manne van ‘n sekuriteitsfirma. En ha, ek kan nou nie meer wag dat ons kos opraak en ek kan loop koop nie. 🙈

    • Lekker lag ek nou vir jou fyn waarnemingsvermoë oor al die aktiwiteite in die straat! Die omtrek van ons huis is blykbaar 80 meter as ek die GPS kan glo en ek doen darem al so 9 rondtes gisteraand. Die gedagte is om elke aand een rondte by te sit. Dis maar ‘n klein entjie teen jou, maar ek probeer voluit draf en nie stap draf soos by Parkrun nie.

  2. O, en as jy seun-hulle werksvergaderings het, sit ek naby genieg om die een of twee keer wat hulle skerts, dit te hoor. Van die werk verstaan ek nijs, dit klink maar vervelig, as jy my vra.

Lewer kommentaar